Solidariteit Helpende Hand het onlangs die kuiertafels afgestof om ʼn groep bejaarde vroue in Mosselbaai te bederf, inspireer en aan te moedig om aan om hul liggies te laat skyn.
Marlise Labuschagne, assistent streeksorganiseerder van die Wes-Kaap, sê die tema van die funksie was Denims en Diamante en is by die Diaz-hotel aangebied.
“Solidariteit Helpende Hand se Wes-kaap streek het besluit om weer ons bejaardes te pamperlang ná so lang termyn van inperking. Ons wou weer lekker saam met hulle kuier en die dames net weer laat besef dat hulle waardig is en waardeer word. Ons het tydens die geleentheid net weer besef hoe uitgehonger die ouer dames was vir geselskap en om te hoor dat hulle steeds waardevol en kosbaar is, ongeag hulle ouderdom,” het Labuschagne gesê.
Sorina Erasmus, ook bekend as die Flooze, het by die geleentheid opgetree en gesê al is ʼn blinker op ʼn denim klein, kan daardie blinker skitter soos ʼn diamant en ver gesien word. “Dit maak dus nie saak hoe klein jou liggie skyn nie - jy kan sonder dat jy dit besef ʼn baie groot verskil in iemand ander se lewe maak,” het Erasmus gesê.
Denise Lloyd, ʼn rolspeler in die Mosselbaai en Hartenbos-gemeenskap en die Hartenbos Seefront se bestuurder, het op haar beurt gesê ouderdom moet ʼn mens nie laat terugstaan nie.
“Jy hoef nie soos ʼn diamant te lyk om een te wees nie. Ouderdom behoort nie ʼn maatstaf van jou kennis en vermoë te wees nie. Vergeet van ʼn ‘sell by date’ en gryp eerder elke geleentheid aan. Net soos die spekboom deur baie gering geag word, maar in effek ʼn superplant is, net so is jy ook ʼn baie spesiale diamant met verborge skatte,” het Lloyd gesê.
Dané Erasmus, maatskaplike werker van Helpende Hand, het vertel dat elke persoon in die samelewing ʼn spesifieke rol het om te vertolk en dat almal ewe belangrik is. “Elke stap wat ons neem is soos ʼn rippeleffek in ons samelewing en kan ʼn groot verskil maak in jou eie en in ander se lewens,” het sy gesê.
Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand:
Phillip Bruwer
Mediaskakelbeampte
Sel.: 081 374 5043
E-pos: phillip@helpendehand.co.za